Thursday, November 5, 2015

Die granaat seisoen vorder goed.

November 2015

Ek het lanklaas hier geskryf. Ek kan nou voorgee dat ek te besig was, of dat die seisoen stil was en niks gebeur het nie. Die waarheid is dat ek net nie die moeite gedoen het nie. Die dae het weke geraak en die weke het maande geraak. Skryf kom nou nie juis natuurlik vir hierdie boer nie.

Hierdie was 'n besige winter vol beplanning.  Ek het begin om die granate op 'n opleistelsel te sit. Die oudste boorde los ek net soos dit is. Ek het hulle goed gesnoei en baie fyn takke uitgedun. Daarna het ek seil bande om die raamtakke gesit om die boom te stabiliseer. In 'n normale jaar sou dit goeie resultate gegee het. Vanjaar word egter gekenmerk deur uiterste weer.  Behalwe dat dit baie droog is, het ons al 'n hele jaar se wind in twee maande gehad.  Die vrugte wat reeds geset het lyk egter nog baie goed.

Die blokke wat in 2013 en 2014 geplant is het ek opgelei. Ek het 3m pale gebruik. Twee pale is 'n ent van hulle voete af aanmekaar gesit en die bokant is oopgemaak en 'n plank ingesit om dit in posisie te hou.  Nadat hulle geplant is en die ankerpale en ankers ingesit het het ek vier drade gespan. Die bome is oop gesnoei en ek het probeer om vier raamtakke op 'n kant was te maak. Dit was 'n redelike werk en het my arbeids koste vir die seisoen baie opgestoot.  Ons het vandag die eerste keer blomme afgebreek in die boord.  Dit gaan baie vinniger as in die vrystaande bome.

Ek sal volgende week 'n paar foto's opsit van die proses.

Wat die beplanning deel betref het dit meestal gehandel oor die FCM beheer.  Kyk daardie mot laat 'n granaatboer sleg slaap. Vanjaar het ek besluit om die lyfband en kruisband vir hom te gebruik. Ek beveg hom van alle kante af. Ek het planne vir planne en as daardie planne nie werk nie het ek ander in plek.  Dit help nie jy pak die probleem aan soos die Springbokke die wereldbeker aangepak het nie. Die ding moet jy van alle kante ag betrek.  Dit is duur en miskien te duur, maar nie so duur soos om 'n klomp mooi vrugte weg te gooi nie.

Ek volg ook 'n nuwe kunsmis program vanjaar.  Dit is baie meer gebalanseerd as die een wat ek laasjaar gebruik het en ek glo ek sal die vrugte daarvan pluk.

More is nog 'n dag en ek dink ek het genoeg woorde getik vir een dag.

Onthou as jy more oggend opstaan, elke dag is spesiaal, maar die een waarmee jy besig is, is die belangrikste. Moenie dat gister jou terughou en more jou bangmaak nie.

Granaat groete.

1 comment:

  1. Hi Christo

    Hoop dit gaan goed ek werk vir 'n verpakking maatskappy een van my kliente het nou granate wat hy wil verpak dit is sy eerste jaar maar hy weet nie wat hy alles gaan nodig he nie kan jy my dalk help

    ReplyDelete