Tuesday, February 24, 2015

'n Moeilike seisoen!

Partykeer dink jy mens , nou het ek die resep gekry, nou weet ek hoe om dinge te hanteer, net om hard grond toe te kom. Vanjaar is een van daardie jare in die granaat bedryf. Na twee goeie seisoene het ek net begin dink ek weet nou hoe om met granate te boer.

Wel vandag kan ek verklaar ek het nog so 'n paar dinge om te leer.  Kyk daar is net teveel faktore wat 'n rol speel. As jy teveel fokus op die een ding kan 'n ander ding jou byt. Almal weet reeds van die VVKM.  Nee ek het nie verkeerd getik nie. Na dese noem ek hom die vervlakste vals kodlingmot. Kyk dat 'n mot nou soveel probleme kan veroorsaak.

Boonop het ek nou, met gevolge agter gekom dat die lang droë somer nog 'n ander uitwerking gehad het. Me die swaar drag op die bome het die warm dae van laas week sy tol geëis.  Die bome het vog uit die vrugte getrek en skielike rypwording veroorsaak.

Nou kyk daar is sekere goed waarmee boere en dan nou ek ook baie goed is. Een daarvan is mos nou om te kla. Nou het ek ook seker genoeg gekla, want jy sien na dit als het ek nou al vanjaar  net soveel Hertzkovitz geluk as laasjaar. Die uitpak sal nie so goed wees nie, maar die vrugte was daar en daar hang nog aan die boom ook. Verder is ek ook amper by dieselfde getal met die Acco as laasjaar en ek dink die kwaliteit is beter.

So hoekom kla ek: Want dit kon soveel beter gewees het.

Nog iets waarmee ons boere goed is, ons kan altyd vir mekaar vertel, volgende jaar, kyk nou net volgende jaar.

My gedagtes is al klaar aan die hardloop oor volgende jaar. Als wat ek anders gaan doen en beter gaan doen en reg gaan doen. Die planne hardloop soos 'n Tsunami golf hierdeur my kop. Nou moet ek net weer pasop, 'n ander man het my eendag vertel, boere is die beste obserweerders dis egter wat hulle met daardie observasies maak wat dikwels die probleem is. Laat maar die gedagtes rol en rol en moenie die eerste oplossing aangryp nie. Wie weet daar is dalk 'n baie beter een net om die draai.

More gaan ek weer 'n slag wyndruiwe oes. My buurman gaan met sy oesmasjien kom en hopenlik gaan ons sommer 'n graat stuk oes. As ek aan enige iemand 'n aanbeveling moer maak: MOET NOOIT WYNDRUIWE PLANT NIE. ALMAL BEHALWE DIE BOER MAAK GELD DAARUIT.

 Nouja, more oggend 5h moet daardie masjien begin loop en ek het nog die maand se rekeninge om na om te sien.


1 comment:

  1. Hi Christo, ons bly net buite Louis Trichardt en ons het self 6 jaar gelede granate geplant. Ek kan so vereenselwig met wat jy skryf, dit lyk of hierdie seisoen ons heel eerste oes gaan hê! En dit is wraggies so, jy dink net jy het die ding onder die knie, dan byt hy jou weer van 'n anderkant af! Baie sterkte vir jou! Groete Jaco Oberholzer van Louis Trichardt
    0825649988

    ReplyDelete