Wednesday, February 25, 2015

Die werk aan die Wonderfull begin.

Vandag 25 Februarie  2015 het ons begin om die Wonderfull oop te knip. Ja dit is nou die granate met die wonderlike naam met sy eiesoortige probleme.

Hierdie kultivar is baie meer gevoelig vir sonbrand as my ander twee kultivars. Die ander twee begin ons vroeg in die seisoen reeds oopknip. Dit is boere terme vir die verwydering van  takkies om die vrug met die doel om skaafmerke te verminder. Die vrugte kleur dan ook beter. Met die Wonderfull kan ons dit nie doen nie. Wonderfull se vrugte bly baie langer groen as die ander twee. Solank die vrugte groen is, is hulle gevoelig vir sonbrand. Dus maak ons die vrugte eers oop as hulle begin kleur. Ons noem dit deurslaan. Om elke vrug word die takkies versigtig verwyder.

Vanoggend was ek seker dit was die regte tyd om dit te begin doen. Vanaand sit ek en wonder of ek nie dalk te vroeg is nie. As ek te vroeg is gaan die son baie skade aanrig. Nou kort ek 'n paar koel dae.

Jy sien, boerdery is genade en net genade. Dit is nie 'n vaste wetenskap nie. Ander het dit al beskryf as wettige dobbel. Met elke stap vat jy 'n kans, of soos die aandele beurs, hoe groter die potensiële inkomste hoe groter die potensiële risiko. In my terme, hoe makliker dit is om met iets te boer hoe minder geld is daarin.

Vanaand gaan ek berus by vanoggend se besluit. More gaan ek die dag aanpak as 'n nuwe uitdaging. Ek kyk vooruit na 'n Wonderfull seisoen vol belofte.

Solank daar hoop is, is daar rede om aan te gaan, en die hoop beskaam nie.

No comments:

Post a Comment