Tuesday, February 17, 2015

Die seisoen begin.

Op Vrydag 12 Februarie 2015 het die granaat seisoen op Blydeverwacht begin.  Ons het met die Acco begin.  Dit is die kleinste van die drie kultivars wat ons verbou, maar dit is die soetste en die rooiste. Die ander twee kultivars is Hertskovitz en Wonderfull.

Nadat ons laasjaar geen probleme met FCM gehad het nie het ons gedink ons planne is reg en dat daardie probleme uitgesorteer is.  Ons is egter nag ver van daardie punt af. Die FCM maak ons vanjaar weer lelik seer. Soos ook in 2013. Ons het die volledige program gevolg maar helaas die skade is daar. Nou is ons besig om virusse te spuit om larwes dood te maak en swamme te spuit om die eiers dood te maak. Waar is die dae toe boere nog swamme en virusse as hulle grootste bedreiging gesien het. Nou gebruik ons hulle.

Die vrugte wat reg is lyk egter mooi. Die grootte is reg en die eerste pluk se uitpak was 90%. Kan nie daaroor kla nie.

Ek is baie teleurgestel in die Hertskovitz. Dit was nog nooit my gunsteling kultivar nie maar vanjaar het hy my lelik in die steek gelaat.  Daar is baie klein vrugte en vrugte wat te vroeg ryp is. Ek sal 'n plan moet maak met daardie vrugte.

Vandag was my kunsmis adviseer hier. Ons begin alreeds dink aan planne vir volgende jaar.

Nou moet hierdie boer eers gaan rus. More verjaar ek en ek het my kragte nodig.


No comments:

Post a Comment