Wednesday, November 11, 2015

Vrystaande bome of oplei.

Ons almal wil mos maar soveel as moontlik inkomste verdien vir ons moeite. Ek kan dit tot op 'n punt doen deur my uitgawes te sny of om die produksie en kwalitiet van my oes te verhoog. Voeg daarmee saam die feit dat ek meer effektief kan spuit en arbeidsaksies kan spaar. Alles redes wat my beweeg het om in draad en pale te bele.

Dit is tot enige boer se voordeel om so vinnig as moontlik na plant die boord in produksie te kry. 'n  Opleistelsel help hiermee omdat die bome baie vinniger kan groei wanneer dit vasgemaak is aan die drade. Die wind beur nou nie die bome heen en weer en beperk die groei nie. Natuurlik hoef die raam takke ook nie so stewig te wees voor die oes aangesit word nie, want die drade ondersteun nou die gewig van die oes. Voeg daarby die feit dat die vrugte minder skaafplekke behoort te kry omdat die takke geanker het en dit raak al die moeite werd om op te lei.

Die voordele stop egter nie hier nie. Weens die vorm wat die boom aanneem is dit baie maklik om die vrugte met die spuitstowwe te teiken. Die kersie op die koek is egter dat as ek die hoek van die stelsel kan regkry, die sonbrand ook baie minder te wees. Natuurlik hoop ek om dit heeltemal uit te skakel.

Die doelwit is dus om 'n stewige struktuur daar te stel, teen die regte hoek om sonbrand te probeer voorkom sonder om vrugbaarheid weens oorskaduwing in te boet. Maklik ne!

Ek het 3 meter paal lengtes gekies, lekker groot ankers en vier drade op 'n kant. Kom ons vat dit eerder stap vir stap.

Die pale word aanmekaar gesit teen die verlangde hoek.







Die aanmekaarsit hiervan gaan redelik vinnig. Om dit egter in die boord te kry is 'n perd van 'n ander kleur.

Daar gaan maar min van hierdie strukture op 'n wa en dit is nie maklik hanteerbaar nie






























Nou volg die gate se maak. gelukkig is daar masjiene wat daarvoor gebruik kan word.

Terselfdertyd moet daar voorsiening gemaak  word vir ankers.  Die maklike manier is om te gaan koop. dit in 'n gat te gooi en te vergeet daarvan. Natuurlik is daar ander maniere ook as die maklik manier, onder andere die goedkoper manier.

Eers word die vorm gebou. Elke anker is 400x400x150 mm.


Drie vorms wat elkeen 49 ankers kan maak.

Skuif die sement tot op die regte plek.

Natuurlik help dit as die sement so by jou aankom.

Riete is in die boog van die yster om dit regop te hou.

En siedaar ankers wat jou blok geanker sal hou.

My seun se hand as bewys dat dit harde werk is.


Kyk net om weer na die proses te kyk maak my sommer moeg van voor af.  Volgende keer vat ons dit verder.

Met die oprig van die stelsel het ek 5 belangrike lesse geleer.
1)  Beplan
2)  Beplan
3)  Beplan
4)  Beplan
5)  Doen

Nou moet ek eers gaan beplan want more moet ek doen.

Thursday, November 5, 2015

Die granaat seisoen vorder goed.

November 2015

Ek het lanklaas hier geskryf. Ek kan nou voorgee dat ek te besig was, of dat die seisoen stil was en niks gebeur het nie. Die waarheid is dat ek net nie die moeite gedoen het nie. Die dae het weke geraak en die weke het maande geraak. Skryf kom nou nie juis natuurlik vir hierdie boer nie.

Hierdie was 'n besige winter vol beplanning.  Ek het begin om die granate op 'n opleistelsel te sit. Die oudste boorde los ek net soos dit is. Ek het hulle goed gesnoei en baie fyn takke uitgedun. Daarna het ek seil bande om die raamtakke gesit om die boom te stabiliseer. In 'n normale jaar sou dit goeie resultate gegee het. Vanjaar word egter gekenmerk deur uiterste weer.  Behalwe dat dit baie droog is, het ons al 'n hele jaar se wind in twee maande gehad.  Die vrugte wat reeds geset het lyk egter nog baie goed.

Die blokke wat in 2013 en 2014 geplant is het ek opgelei. Ek het 3m pale gebruik. Twee pale is 'n ent van hulle voete af aanmekaar gesit en die bokant is oopgemaak en 'n plank ingesit om dit in posisie te hou.  Nadat hulle geplant is en die ankerpale en ankers ingesit het het ek vier drade gespan. Die bome is oop gesnoei en ek het probeer om vier raamtakke op 'n kant was te maak. Dit was 'n redelike werk en het my arbeids koste vir die seisoen baie opgestoot.  Ons het vandag die eerste keer blomme afgebreek in die boord.  Dit gaan baie vinniger as in die vrystaande bome.

Ek sal volgende week 'n paar foto's opsit van die proses.

Wat die beplanning deel betref het dit meestal gehandel oor die FCM beheer.  Kyk daardie mot laat 'n granaatboer sleg slaap. Vanjaar het ek besluit om die lyfband en kruisband vir hom te gebruik. Ek beveg hom van alle kante af. Ek het planne vir planne en as daardie planne nie werk nie het ek ander in plek.  Dit help nie jy pak die probleem aan soos die Springbokke die wereldbeker aangepak het nie. Die ding moet jy van alle kante ag betrek.  Dit is duur en miskien te duur, maar nie so duur soos om 'n klomp mooi vrugte weg te gooi nie.

Ek volg ook 'n nuwe kunsmis program vanjaar.  Dit is baie meer gebalanseerd as die een wat ek laasjaar gebruik het en ek glo ek sal die vrugte daarvan pluk.

More is nog 'n dag en ek dink ek het genoeg woorde getik vir een dag.

Onthou as jy more oggend opstaan, elke dag is spesiaal, maar die een waarmee jy besig is, is die belangrikste. Moenie dat gister jou terughou en more jou bangmaak nie.

Granaat groete.