Monday, March 23, 2015

Die Suid - Afrikaanse granaat mark

Elkeen van ons ken iemand wat kleintyd 'n granaatboom in die tuin gehad het.  Vertel nou maar net vir iemand jy boer met granate dan kom die nostalgiese stories uit. Die persoon het dan altyd iemand vir wie hy 'n granaat wil gee en as deel van bemarking gee ek maar alte graag.

Behalwe dit is 'n granaat ook baie gesond. Daarmee kan Google jou baie help. Dit is een van die super vrugte wat wêreld wyd al hoe gewilder raak. Suid - Afrika volg egter nie die tendens nie.  Om die granaat boerdery in Suid - Afrika te laat groei moet ons die plaaslike mark laat groei,  Daar is egter 'n probleem.


 Hierdie foto's is aan my gestuur deur Schalk Meintjes vanaf Gauteng. Ek het ook al baie sulke foto's geneem. Die probleem is dat dit verskriklik swak kwaliteit vrugte is wat teen 'n buitensporige duur prys verkoop word.  Wie is nou lus vir 'n vrug wat in so swak toestand is.

Ek raak so hartseer as ek in winkels sien hoe die rakpakkers met die vrugte werk.  Op plaasvlak werk ons so versigtig. Elke vrug word individueel hanteer.  Dit word saggies in 'n plukemmer gepak en daarvandaan word elkeen versigtig in 'n krat gepak.  Die probleem is dat die mense nie die regte opleiding kry nie. Die vrugte word dan verkeerd hanteer en verloor kwaliteit.


Hierdie is een van my granate op die winkel rakke in Europa.  Dit is iets wat 'n mens wil eet. Na 3 weke op 'n boot, op 'n vragmotor na die winkel en uiteindelik op die winkelrak is dit die kwaliteit.  Hoekom kan ons winkelgroepe dit nie regkry nie. Hier kan dit dieselfde week as wat dit gepluk word op die winkelrak wees.

Dit is belangrik dat die mrk in Suid -Afrika groei. Ons sal dit net regkry as al die rolspelers en die verbruikers opgelei word. Ek sien uit na die dag wat ons vrugte rakke soos die in die foto hierbo lyk, en nee ons kry baie minder vir ons uitvoer vrugte as wat die supermarkte vra, so dit is nie 'n prys kwessie nie.

Gaan soek vir jou 'n lekker granaat en eet hom met smaak.

Monday, March 16, 2015

Die Wonderfull oes begin

Vanoggend was hierdie granaat boer moedeloos. Soos in nie meer lus vir boer nie.  Die rede: Nadat ek so opgewonde was oor die Wonderfull oes, het die vrugte die naweek besluit om op groot skaal te kraak terwyl dit nie opgekleur het soos ek gehoop het nie.  Ons het soveel vrugte weggegooi.

Later die middag het dit beter gegaan, Dit was net 'n paar rye wat so erg gekraak het. Waar ons nou oes lyk dit nog steeds goed. Ek sal steeds 'n goeie oes afhaal.

Boerdery is nie lig op 'n man se senuwees nie.  Jy moet alle probleme so in die draf kan vat. Wat die ergste vir my is, is dat jy eers weer oor 'n jaar 'n kans kry om beter te doen. Vir 'n hele seisoen word daar gewerk en gestoei en eers oor 'n jaar kan jy sien of jy suksesvol was.

So dink mooi oor wat jy gedoen het, hoe jy dit dalk beter kon doen en watter ander dinge jy dalk kan doen. Probeer weer en wie weet, volgende jaar is dit dalk net jou jaar.

Friday, March 13, 2015

Kwekery

TOP Nursery, Die granaat kwekery.

Op Blydeverwacht is daar ook 'n granaat kwekery.In samewerking met 'n Israeliese groep kweek ons op die stadium drie kultivars van Israel.

Dit is die Acco 312, Hertzkovits 314 en die Wonderfull.  Hier word plantmateriaal gebruik uit moeder blokke wat gevestig is uit plantmateriaal wat uit Israel kom.

Wanneer ons 'n behoefte het aan ekstra plante kan ons dit deur die winter in tonnels vermeerder. Ons kan dit egter ook buite doen deur die somer.

Die idee is om 'n deurlopende adviserende diens aan produsente te lewer.
Bome groei welig in die kwekery

Kyk die aktiewe wortelgroei

Gesonde bome

Steggies uitgepak in die tonnel

Die kwekery het plantregte op die kultivars en dit mag slegs deur TOP Nursery vermeerder word. <et die aankoop van die plante word daar ook 'n ooreenkoms onderteken om dit nie self te vermeerder nie.

Kom vra gerus hoe om 'n suksesvolle granaat boerdery te begin.


So lyk die Wonderfull oes.






Die oes lyk goed aan die bome vanjaar. Daar het egter al 'n klomp vrugte gekraak. Nadat ons laas Dinsdag temperature van meer as 40 grade gehad het het die vrugte ingekrimp. Die volgende oggend toe die bome begin water gebruik het van die vrugte gekraak.  Hierdie week het ons soveel as moontlik van die gekraakte vrugte verwyder asook van die sonbrand vrugte.  Dit sal hopenlik die boom instaat stel om die res van die oes groot te maak.

Vandag knip ons takkies en blare weg rondom die vrugte.Dit sal help vir beter kleur.  Ons vul die kleur so egalig as moontlik om die vrug kry,